News

ʼn Dokumentêre film, ‘Creating the Blend’, vier inisiatiewe wat die lewens van Suid-Afrikaanse wynbedryfwerkers verryk.

Die film is deur die bedryf se generiese bemarkingsliggaam Wines of South Africa (Wosa) uitgereik.

“Wines of South Africa deel met trots die kort dokumentêre film, ‘Creating the Blend’, wat ’n paar van die uitsonderlike programme en inisiatiewe tans in die wynbedryf toelig – programme wat die lewens van wynbedryfwerkers verryk en waarde toevoeg op verskeie vlakke, insluitende grondeienaarskap, opvoeding, gesondheidsorg, opleiding en besigheidsgeleenthede,” vertel Maryna Calow, Kommunikasiebestuurder van Wosa.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het ver gevorder sedert 1994. Die insluiting, opheffing en groei van ons bedryf en sy mense bly aan die voorpunt hiervan. Hoewel daar nog heelwat geleentheid vir groei is, moet ons erkenning gee aan menigte entiteite wat ’n deurlopende bydrae maak tot die welstand en positiewe groei van die 291,000 mense in diens van ons bedryf.

Bedryfsliggame soos die VinPro Stigting en die Wyn en Landbou Etiese Handelsvereniging (WIETA) speel ’n belangrike rol om geleenthede vir ’n billike en inklusiewe werksomgewing te skep. So ook ’n wye reeks welwillendheidsorganisasies, veilings en protégé-programme.

“Die gesegde, ‘Rome is nie in een dag gebou nie’, is ook ’n werklikheid in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Dit is egter bemoedigend om te sien dat die spreekwoordelike ‘paaie’ gebou, gelykgemaak en geteer word vir ’n gladder, meer aangename rit vir almal.

“Ons spreek graag ons dank uit aan alle deelnemers en deel met opwinding ’n stukkie van die skoonheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sy mense met die res van die wêreld,” sê Maryna.

Kyk die video hier:

https://www.youtube.com/watch?v=K91igOl6N00&t=11s

Go Back