News

Michael Langenhoven, wynmaker by Mont Rochelle.

Ons gesels elke maand met ʼn kelder oor hul onderneming, wat hulle laat wakker lê en wat hulle hoop gee. “Maak uitsonderlike wyne en wees daar buite, wees sigbaar aan soveel mense as wat jy kan,” sê Michael Langenhoven, wynmaker by Mont Rochelle.

 

1. Vertel ons meer oor Mont Rochelle?

Mont Rochelle is ‘n boetiekwynmakery in Franschhoek langs die pragtige Dassenberge. Ons vorm deel van die Virgin Limited Edition-groep en fokus op eksklusiwiteit, terwyl ons die gehalte van ons wyne en algehele diens voorop stel.

Die eerste eienaars van Mont Rochelle was die De Villiers-familie toe hulle in 1688 saam met die Franse Hugenote in Suid-Afrika aangekom het. In die 20ste eeu het die Roux-familie eiendomsreg op die landgoed gehad. In 1940 het Abraham Michelson Mont Rochelle gekoop wat destyds ‘n kelder gehad het met 20 groot eikehoutvate en die eerste wingerde wat rondom die laaste Boereoorlog in 1899 geplant is. Oor die afgelope 20 jaar het verskeie eienaars Mont Rochelle oor tyd uitgebrei. Die mees onlangse eienaars van Mont Rochelle was Erwin Schnitzler en Miko Rwayitare. Miko was die eerste swart persoon in Suid-Afrika wat ‘n wynkelder besit het, en ons vlagskipwyne is na hom vernoem.

In 2014 het Sir Richard Branson die plaas gekoop en Mont Rochelle het deel geword van die eksklusiewe Virgin Limited Edition-groep wat Necker- en Moskito-eiland in die Britse Maagde-eilande, Kasbah Tamadot in Marokko, Mahali Mazuri in Kenia, Sun Bonyola in Mallorca, The Lodge in Verbier en Ulusaba Wildreservaat in Suid-Afrika insluit.

Ons verwerk ongeveer 150 ton wyndruiwe per jaar. Ons het ‘n groot aanhang van verbruikers wêreldwyd, en ons fokus op elegante wyne met baie finesse. Ons wyne word in drie vlakke verdeel om in elke verbruiker se behoefte te voorsien, van wyne in ʼn vrugtiger styl tot meer ouwêreldse wyne met elegansie en verouderingspotensiaal. Ons voer 60% van ons wyne uit teenoor 40% plaaslike verkope.

Benewens wynverkope het Mont Rochelle ‘n 5-ster-hotel met 26 ensuite kamers met pragtige uitsigte oor die vallei en wingerd. Our Manor House is ‘n luukse villa wat ‘n entjie se stap van die hotel geleë is – die perfekte opsie vir ‘n privaat wegbreuk vir ‘n familie of vriende. Ons het ook twee restaurante op die perseel om in besoekers se behoeftes te voorsien. Die MIKO Restaurant in die hotel word die beste beskryf as ‘n voorsmakie van Suid-Afrikaanse gunstelinge, en elke gereg vertel ‘n storie met die varsste plaaslike bestanddele. Die Country Kitchen bederf besoekers met ‘n pragtige omgewing en asemrowende uitsig terwyl hulle lekker vars disse geniet.

Ons mense is ‘n baie groot bate vir die maatskappy. Ons het ‘n klein span wat bestaan uit ‘n wynmaker, plaasbestuurder, verkoops- en bemarkingsbestuurder, twee kelderwerkers en 11 wingerdwerkers.

2. Wat maak jul area uniek in terme van terroir en die wynstyle wat julle produseer?

Franschhoek is ‘n warmer wyndruifverbouingsgebied, maar ons is op die koeler, verhewe hange van die Franschhoekvallei. Dit gee ons ‘n langer rypwordingstydperk wat baie goed is vir die verbouing van premium druiwe.

3. Wyntoerisme is ‘n groot deel van jul besigheid en moes erg deur Covid-19 geraak gewees het. Wat het julle deurgetrek en watter lesse het julle in dié tyd geleer wat deel geword het van hoe julle nou besigheid doen?

Covid-19 het ons almal laat besef dat ons kreatief kan wees op baie maniere. Die afgelope twee jaar het ons baie geleer om buite die boks te dink, by verskeie situasies aan te pas en te verseker dat ons steeds ‘n puik produk met uitstekende diens aan ons plaaslike en internasionale mark en verbruikers lewer.

Ons was gelukkig genoeg om op die uitvoermark te konsentreer waar ons ons voetspoor in die VK, EU en VSA vir beide direk-na-verbruikerverkope, asook verkope op die perseel laat groei het. Ons is ook ewig dankbaar vir al ons plaaslike verbruikers en hul lojaliteit teenoor ons handelsmerk, aangesien hulle ons deur hierdie tyd bly bystaan het.

4. Enige interessante verwikkelinge in die pyplyn?

Ons is tans besig om al ons wingerde te hervestig met topgehalte wingerdstokkies en sal die hervestiging afsluit met Chardonnay en Pinot Noir vir ons eerste Cap Classique wat kom.

Ons sien daarna uit om ons plaaslike en internasionale mark vir direk-na-verbruikerverkope en verkope op die perseel te laat groei. Mont Rochelle is opgewonde oor die toekoms en om die handelsmerk na nuwe hoogtes te neem!

5. Jou boodskap aan ander wynondernemings oor die pad vorentoe?

Maak uitsonderlike wyne en wees daar buite, wees sigbaar aan soveel mense as wat jy kan.

 

Go Back