News

Hoe kan die Suid-Afrikaanse wynbedryf homself vernuwe om by veranderende verbruikerstendense, klimaatstoestande, ekonomiese en politieke realiteite aan te pas? Die Growing Together-tema van die volgende Nedbank VinPro Inligtingsdag spreek die faktore aan wat nodig is om winsgewendheid, internasionale mededingendheid en volhoubaarheid vorentoe te dryf.

Die Inligtingsdag word 18 Januarie 2018 van 09:00 tot 14:00 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) gehou.

VinPro-hoof Rico Basson sal die Suid-Afrikaanse wynbedryf se vordering teen gestelde teikens meet in die jaarlikse Stand van die Bedryf-verslag. Vanaf ʼn seisoensoorsig tot ʼn die bedryf se verwagtinge van die 2018-wyndruifoes en nuwe tegnologiese verwikkelinge – VinPro-konsultasiediensbestuurder Francois Viljoen sal oor alles wingerdverwant praat.

Lulie Halstead kyk vooruit na internasionale wynverbruikerstendense in 2030, en werk terug na hedendaagse suksesfaktore in die vernaamste uitvoermarkte. Lulie is die HUB van Wine Intelligence, ʼn toonaangewende internasionale marknavorsings- en strategiekonsultant met verbruikers- en handelsinsigte in meer as 30 wynmarkte.

Wat sal dit verg vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf om in ʼn ander liga te speel? Mike Ratcliffe, hoof van Warwick Wynlandgoed en medestigter van die VSA/SA-vennootskap Vilafonté-wyne, sal sy perspektief oor die plaaslike mark, innovasie, bemarking en besigheidsmodelle deel.

Aan die ekonomiese kant gaan Isaac Matshego, ekonoom by die Ekonomiese Eenheid van Nedbank Groep Bpk ʼn voorbeskouing gee van die tendense wat volgende jaar ʼn effek op die bedryf sal hê, en politieke ontleder Max du Preez werp lig op die politieke klimaat en invloed daarvan op die landbousektor.

Nedbank is in 2018 vir die 12de agtereenvolgende jaar die hoofborg, met Old Mutual en Old Mutual Agri Insure betrokke as kleiner borge. Daneel Rossouw, Nedbank se afdelingshoof vir landbou in die Wes-Kaap sê: “Nedbank en die wynbedryf het ʼn goed erkende en wederkerige verhouding. Ekonomiese groei en werkskepping in die Wes-Kaap en Suid-Afrika is vir beide partye van groot belang.

“As geldkundiges en as borg stel Nedbank dit voorop om groei te verseker vir ʼn beter Suid-Afrika deurdat ons strategies met klein, medium en groter ondernemings in die landbou- en ander sektore wil saamwerk. VinPro bied waardevolle netwerkgeleenthede vir besigheidseienaars en aspirant entrepreneurs, asook ʼn platform waartydens innoverende oplossings vir sommige van die bedryf se uitdagings ook hier gedeel word,” sê Rossouw.

VinPro-lede registreer teen R650* per persoon en nie-lede teen R950 per persoon.

(*Afslag beperk tot twee kaartjies per lid)

BESPREEK AANLYN

LAAI PROGRAM AF 

Vir navrae: skakel 021 276 0460 of e-pos info@vinpro.co.za.

Registrasie sluit 12 Januarie 2018.

 

 

Go Back