News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het begrip vir die regering se ekonomiese uitdagings. Dit sal egter vir wynprodusente en kelders ʼn uitdaging wees om bo-inflasie stygings in wyn- en brandewynaksyns te absorbeer.

Verhogings in aksynsbelasting van 8.8% op wyn en vonkelwyn en 8.5% op spiritus is 22 Februarie 2017 tydens die Minister van Finansies, Pravin Gordhan se jaarlikse Begrotingsrede aangekondig.

“In ʼn tyd van ekonomiese druk waarin kleinhandelpryse vir wyn met minder as inflasie toeneem, sal wynprodusente en kelders dit moeilik vind om hierdie stygings te absorbeer,” sê Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, die verteenwoordigende organisasie vir sowat 3 500 Suid-Afrikaanse wynprodusente en kelders.

Slegs ʼn derde van die bedryf verbou tans wyndruiwe teen finansieel volhoubare vlakke en opbrengs op belegging is laer as 2%.

Die wynbedryf beslaan sowat 97 000 ha onder wyndruiwe en neem in totaal nagenoeg 300 000 mense in diens. “Belegging, beleidsekerheid en direkte ondersteuning met betrekking tot landbouverwante kwessies soos behuising, water, grond en marktoegang is onontbeerlik om die bedryf vorentoe te neem,” sê Basson.

Volgens hom heers daar steeds kommer in die bedryf oor die omvang van onwettige handel en die sosio-ekonomiese impak van alkoholmisbruik, en word ʼn beroep op die regering gedoen vir ʼn verantwoordelike beleidsraamwerk met gesamentlike, direkte intervensies.

“Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf is tans besig met die implementering van ʼn nuwe strategiese raamwerk, die Wine Industry Strategic Exercise (Wise). Noue samewerking met en ondersteuning van die regering sal as dryfveer dien om die gestelde teikens te bereik,” sê Basson.

ADDISIONELE NOTAS

WISE State of the Industry 2016: http://vinpro.co.za/state-sa-wine-industry/

NAVRAE:

Lee-Anne Davidson, tel 021 276 0460, e-pos info@vinpro.co.za.

Go Back