News

Johann Nel, Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar 2017

Boerdery is in sy bloed, sê Johann Nel, Agri Wes-Kaap Santam Landbou se Jongboer van die Jaar 2017. Hy deel wyshede oor waardes, tegnologie en lesse wat wyn by melk kan leer. Deur Johannes Richter

Johann Nel se liefde vir boerdery het as kind op sy oupa se plaas ontstaan. Hy is op Ermelo gebore, maar het sy kinderjare in Middelburg deurgebring, waar hy in 2004 gematrikuleer het. Hy het daarna BCom Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar in 2008 het sy pa Christoff ’n plaas in die Overberg gekoop. Johann het dadelik hierdie geleentheid aangegryp om te begin boer, en in 2008 verhuis hy na Hoëkraal op Suurbraak, naby Buffeljags­rivier, waar hy vandag steeds boer.

“My familie was nog altyd by landbou betrokke, al het ons nie op ’n plaas gewoon nie,” sê Johann. “Boerdery was altyd deel van my grootwordjare. Ek kan seker sê dis in my bloed!”

Wat beteken hierdie toekenning vir jou?
Dit was ’n groot eer net om in aanmerking te kom en genomineer te word. Die toekenning het vir my ’n geleentheid gebied om te groei deur myself aan ander landbouers en leiers in landboupraktyke te meet.

Wat motiveer jou om te presteer?
Ek wil graag die drome en ideale wat ek en my pa vir die plaas gedeel het, verwesenlik. Verder wil ek graag die plaas tot sy volle potensiaal gebruik en benut. Ek geniet dit ook baie om te sien hoe my gesin die lewenskwaliteit op die plaas geniet.

Wat beskou jy as sukses?
Sukses is wanneer ek en my werksmag saam die eindpunt bereik, al het dit langer ure en meer sweet geverg as wat ons verwag het.

Watter persoonlike filosofie of benadering probeer jy volg?
Ek probeer altyd ekonomies wees deur nie onnodig geld uit te gee nie. Ek probeer eers self ’n ding doen voordat ek daarvoor betaal. Daarmee saam glo ek ’n mens moet jou waardes ken. Maak seker jou optrede getuig daarvan dat jy betroubaar, eerlik en fluks is met alles wat jy doen.

Watter eienskappe sou jy sê maak van iemand ’n goeie landbouer?
Eerstens moet jy ’n passie en liefde vir boerdery hê. ’n Suksesvolle landbouer se betrokkenheid stop nie by opdragte uitdeel en besluite maak nie – jy moet dáár wees vir elke oomblik, van plant tot oes. Dis nie altyd so maklik in die praktyk nie, maar ’n mens moet onder druk kalm kan bly, veral wanneer dinge skeefloop. Anders is jy later spyt.

Watter lesse kan jong boere in die wynbedryf by jou leer?
Elke plaas het sy eie karakter. Bepaal wat die plaas se drakrag is en bestuur jou boerdery dienooreenkomstig. Tegnologie en bestuurspraktyke speel ’n groot rol om die drakrag te bepaal.
Beproef alles en kyk wat werk.
Dis duur om lesse in landbou te leer; leer liewer uit ander se foute – hulle het klaar die skoolgeld betaal!
Hoe definieer jy innovasie? En hoe pas jy dit op jou boerdery toe?
Met behulp van tegnologie en goeie bestuurs­praktyke kan landbouers deesdae baie meer effektief en doeltreffend boer. Tegnologie wat op die plaas ingespan word, is byvoorbeeld die melkprogram Delpro, wat koeie se produksie meet en daarvolgens die nodige kragvoer gee, en die weidingsprogram Fourth Quadrant, wat weekliks die weiding meet om te verseker die koeie kry voldoende gras om te vreet. Dit help ons om die voervloei te beplan sodat ons genoeg kos vir al die diere het.

Watter raakpunte is daar tussen die wynbedryf en die graan- en vleisbedryf?
Ons is almal van die natuur, kommoditeitspryse, en vraag en aanbod in die mark afhanklik.

Waarvan moet jong boere in die landboubedryf kennis neem?
Hou eerstens rekening met produksie- en geleent­heidskostes – maak seker jou somme klop voordat jy iets aanpak. Tweedens, tegnologie verander daagliks, maar probeer tot die beste van jou vermoë om met al die veranderings op datum te bly. Laastens, weet wat jou risiko’s is en pas jou bestuursmetodes daarby aan.

Watter aktiwiteite of stokperdjies verskaf vir jou plesier?
Ek en my gesin geniet dit om saam met familie en vriende te kuier, of dit nou ’n gesellige braai, ’n jagvakansie in die winter of ’n somervakansie by die see is.

Watter wyn drink jy tans? Het jy enige gunstelinge?
Ek het in die binneland grootgeword en is nie juis ’n groot wyndrinker nie, maar in die koue wintermaande geniet ek De Krans se muskadel.

Wat maak jou opgewonde oor landbou in Suid-Afrika nou?
Die toekoms. Daar is so baie geleenthede in landbou vandag. Ek is opgewonde oor die tegnologiese en wetenskaplike ontwikke­ling wat daagliks belangriker raak om hierdie bedryf meer effektief en ekonomies te maak.

• Johann kom in Oktober in die nasionale Agri SA/Toyota SA Jongboer van die Jaar-kompetisie teen die ander provinsiale wenners te staan.

Soos gepubliseer in die Augustus-uitgawe van WynLand-tydskrif

 

Go Back