News

’N WARBOEL WETTE REGULEER DIE SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF – VAN DIE AANKOOP EN BEWARING VAN GROND TOT JOU BOTTEL WYN WAT OP DIE RAK STAAN. WAT HET DIT IN GEMEEN? OM MENS EN OMGEWING TE BESKERM. DEUR JANA LOOTS

Die lys wetgewing en vereistes wat die wynbedryf reguleer, mag dalk so lank soos jou arm wees, en daardie arm is dalk reeds lam van al die papierwerk. Maar het jy geweet Suid-Afrika is die res van die wêreld een voor as dit kom by die regulering en naspeurbaarheid van wyn?

“Verbruikers regoor die wêreld wil bevestiging hê dat die etiket op die wyn wat hulle drink, sy belofte nakom,” het Olivia Poonah, sekretaris van die Wyn- en Spiritusraad, in ’n vorige WynLand-onderhoud gesê. “Die Suid-Afrikaanse wynbedryf se stelsels om die oorsprong van sy wyne na te speur en bevestig is ligjare voor enige ander wynsektor ter wêreld.”

WAT IS IN DIE BOTTEL?
Kyk ’n bietjie noukeurig wanneer jy weer jou gunstelingwyn oopmaak – die seël op die nek van die bottel is die regering en kelder se belofte aan jou dat die vloeistof wat jy gaan drink wel is wat die etiket sê dit is.
Die Wet op Drankprodukte bepaal die produksie, gehalte, gesondheidsvereistes en kategorie van byna alle drankprodukte, met die uitsondering van bier en sorghumbier. Die Wyn van Oorsprong- (WO-) seël wat volgens wet op elke bottel wyn verskyn, dui op die oorsprong, kultivar en oesjaar, en dien as bewys dat dit sensories deur ’n proepaneel van die raad goedgekeur is. ’n Identiteitsnommer op die seël stel jou in staat om alle inligting, van die pars van druiwe tot die wynmaakproses en finale sertifisering te trek – dus die wyn se naspeurbaarheid van die grond tot die rak.

Die Wyn- en Spiritusraad reguleer die WO-skema en Landgoedbrandewynvereistes, terwyl die departement van landbou se Direktoraat van Voedselveiligheid en Gehalteversekering die in- en uitvoer van wyn deur die Wine Online-stelsel reguleer, soos in die Wet op Drankprodukte gestipuleer word.

Die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels vereis gesondheidswaarskuwings soos “Alkohol is verslawend” en “Die drink van alkohol tydens swangerskap kan skadelik vir jou ongebore kind wees” moet op drankprodukverpakkings verskyn.

Wanneer ’n wynprodusent, verspreider of kleinhandelaar aan ’n mens of entiteit met ’n jaarlikse omset of batewaarde van minder as R2 miljoen wyn verkoop, tree die Wet op Verbruikersbeskerming in werking.

REËLS VIR KOOP EN VERKOOP
Jy’s op pad na ’n braai en wil gou stop om ’n bottel wyn te koop, maar jou supermark het ’n versperring voor die wynrak geplaas. Intussen kan jou vriende in ’n ander dorp hierdie tyd van die dag nog wyn koop.
Die Nasionale Drankwet, Nasionale Drankbeleid en provinsiale wetgewing bepaal die vervaardiging, verspreiding, verkoop en bemarking van drank en vereis die registrasie van alle grootskaalse vervaardigers en verspreiders by die Nasionale Drankowerheid. Die owerheid reguleer ook hierdie wetgewing. Mikrovervaardigers en kleinhandelaars moet onder die provinsiale wetgewing registreer. Die doel van die wetgewing is om onder andere sosio-ekonomiese en ander gevolge verwant aan alkoholmisbruik te verminder.

In die Wes-Kaap bepaal munisipaliteite handelsdae en -ure deur middel van munisipale verordenings. Indien ’n munisipaliteit nie ’n verordening vasgestel het nie, geld die algemene handelsdae en -ure soos in die Wes-Kaapse Drankwet vervat is.

KOESTER JOU MENSE
Net soos wetgewing die verbruiker beskerm, is daar ook wette wat diegene beskerm wat die produk help maak.
Die Wet op Arbeidsverhoudinge is die belangrikste arbeidswet en reguleer werknemers en werkgewers se regte en verantwoordelikhede. Dit vervat ook die riglyne vir geskilbeslegtingsagentskappe soos die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Hiermee saam stel die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en Sektorale Vasstelling die minimum statutêre vereistes waarvolgens werkgewers werknemers mag kontrakteer.

Volgens die Wet op Billike Werksgeleenthede moet sekere werkgewers jaarliks verslae by die departement van arbeid indien en ’n billike werksgeleenthede-plan in plek hê. Die Wet op Vaardigheidsontwikkeling het ten doel om die kennis en vaardighede van die arbeidsmag uit te brei.

Ander wette in die werksplek sluit die Gesondheidswet en Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid in. Hierdie basiese arbeidswetgewing en meer word vervat in die etiese handelskodes van die internasionaal geakkrediteerde vrywillige instansies, Wieta en Fairtrade, en meer as twee derdes van Suid-Afrika se wyndruif- en wynprodusente voldoen daaraan. Produsente wat akkreditasie by enigeen van hierdie twee instansies het, voldoen nie net aan die wetgewing nie, maar trek ook die voordeel daarvan dat hul wyne oorsee groter aftrek by verbruikers en kleinhandelaars geniet wat toenemend op eties-geproduseerde wyn fokus.

BEWAAR DIE OMGEWING WAARIN JY WERK
Net soos wat die Suid-Afrikaanse Grondwet verklaar dat elke mens die reg het op ’n omgewing wat nie vir hul welstand skadelik is nie, is elke mens ook geregtig op die bewaring van die omgewing vir huidige en toekomstige geslagte.

Deur hul vrywillige deelname aan die wynbedryf se Geïntegreerde Produksie van Wyn- (IPW-) skema verbind produsente hulle nie net tot omgewingsvriendelike praktyke nie, maar verseker hulle hierdeur ook dat hulle aan al die basiese omgewingsverwante wetgewing voldoen en gee die gekombineerde WO-/IPW-seël aan hierdie handelsmerke ’n mededingende voordeel by verbruikers.

Die wetgewing wat hierin vervat is, sluit in die Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit, Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, Nasionale Wet op Omgewingsbestuur, Kaapse Natuur- en Omgewingsbewaringsordonnansie, Nasionale Waterwet en Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels.

Die IPW-vereistes is opgeneem in die Wet op Drankprodukte en word deur die Wyn- en Spiritusraad gereguleer.

UIT JOU SAK
Buiten die kostes en papierwerk verbonde aan die voldoening aan al hierdie wetsvereistes, vorder die regering ook fondse van die wynbedryf in deur onder andere statutêre heffings en aksynsbelasting.
Die Wet op Bemarking van Landbouprodukte bepaal wyndruif- en wynprodusente moet maandeliks statutêre heffings aan die Nasionale Landboubemarkingsraad betaal. Hierdie fondse word toegedeel aan die wynbedryf se Transformasie-eenheid vir verdienstelike belegging in transformasieverwante inisiatiewe, asook aan die drie besigheidseenhede, SA Wynbedryf- en Inligtingstelsels (Sawis), Wines of South Africa (Wosa) en Winetech, vir die uitvoer van hul bedryfsfunksies. Sawis is deur die Nasionale Landboubemarkingsraad gekontrakteer om statutêre heffings in te vorder.

As uitvloeisel van die Doeane- en Aksynswet het die regering in 2017 aksynsbelasting van R4 153 miljoen van wyn- en brandewynprodusente verhaal en R2 600 van BTW – dus altesaam ’n inkomste van R6 753 miljoen teenoor ’n produsente-inkomste van R5 827 miljoen. Hierdie inkomste word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gereguleer en ingevorder.

Go Back