News

Die wynbedryf staan vandag saam met die landbousektor en talle ander Suid-Afrikaners teen geweld.

“VinPro is diep geraak deur die onlangse voorvalle van geweld en lewensverlies in ons wynprodusentegemeenskap. Ons produsente en hul werknemers is nie net onder groot druk weens droogte, natuurrampe en kostedruk nie; hul veiligheid is ook in die gedrang,” sê Rico Basson, VinPro besturende direkteur.

Volgens SAPD-misdaadstatistiek het plaasmoorde in Suid-Afrika met 27% toegeneem en plaasaanvalle met 23% in 2016/17.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verskaf 290 000 werksgeleenthede en dra R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by. Die uitdagings wat die bedryf in die gesig staar bedreig die volhoubaarheid van hierdie besighede, wat ʼn ernstige rimpeleffek op veral landelike gemeenskappe sal hê.

“Dis nou die tyd om saam te staan as Suid-Afrikaners teen geweld van enige aard,” sê Basson. “Ons moedig produsente aan om by bestaande strukture betrokke te raak en rig onsself daarop om oplossings saam met alle belangepartye te vind ten einde positiewe verandering in ons bedryf en land mee te bring.”

UITGEREIK DEUR: Anton Smuts (VinPro-voorsitter) & Rico Basson (VinPro besturende direkteur)

NAVRAE:
Wanda Augustyn
Media & Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back