News

Louis Loubser van die plaas Vinefera, wenner van die Vinpro Winetech wingerdblokevaluering in die Robertsonstreek.

ʼn Chenin Blanc-wingerd van Louis Loubser op die plaas Vinefera is verlede week as Vinpro en Winetech se top wingerdblok in die Robertson-streek aangewys.

Die wynbedryforganisasies het vanjaar Chenin Blanc as tema gekies. “Chenin Blanc is ʼn algemene kultivar in Robertson en word vir verskillende wyndoelwitte op verskillende stelsels verbou. Ons wou graag die veelsydigheid van Chenin Blanc ten toon stel,” vertel Hennie Visser, Vinpro-wingerdkonsultant vir dié streek.

Danie de Wet van De Wilgen-plaas en PK Uys van Wansbek-Oos is in die tweede en derde plek aangewys.

Die wenblok Chenin Blanc beslaan 1.62 ha, is in 2011 aangeplant en op die balletrokstelsel opgelei. “Louis se blok is baie goed besproei, veral gegewe ons huidige watertekort. Balletrokstelsels het groot lowers en het dus ʼn groot waterbehoefte. Vogmetings en die produsent se kennis en ondervinding van die stelsel en sy grond het daartoe gelei dat hy baie noukeurig besproei het,” vertel Hennie.

Die lower is verder goed bestuur; selfs na die hittegolwe en warm dae was daar feitlik geen sonbrand nie, en die lower en druiwe vertoon goed. Die langtermynpraktyke in terme van die grondvoorbereiding, prieelstelsel en stokontwikkeling het ook as sterkpunt uitgestaan.

Hierdie is ook van die beste praktyke wat tydens ʼn onlangse boeredag toegelig is. “Wingerde wat op balletrokstelsels verbou word, benodig voldoende groeikrag. Die groeikrag moet deur die leeftyd van die blok in stand gehou word deur noukeurige besproeiing en bemesting, gebaseer op gereelde grondontledings en grondvogmetings,” vertel Hennie.

Ondanks die feit dat meer draers gesnoei moet word, moet dit steeds oordeelkundig gedoen word en moet oormatige oogladings vermy word.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:            VinPro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back