News

Dit is verblydend om te sien hoe wingerdbestuur in Suid-Afrika verander. Die denkwyse van gehalte teen alle koste is besig om te skuif na winsgewendheid teen die regte gehalte. Produsente belyn toenemend hul praktyke met hul wyndoelwit en die druiweprys.

Dit is welbekend winsgewendheid gaan hand aan hand met kwaliteit. Maar die woord kwaliteit word dikwels losweg gebruik. Wanneer dit by wingerd kom, moet ’n mens besef daar word verskillende vlakke van kwaliteit verlang en slim produsente se gewoeker ’n groot impak op die eindelike wynkwaliteit het. Daar is talle korttermyn- tegniese praktyke wat oor die afgelope paar jaar die winsgewendheid van wynprodusente aangehelp het. Hierdie artikel gee ’n opsomming van sommige van die praktyke wat gebruik kan word en terugvoer van produsente.

Snoeimetodes

’n Verhoging in produksie kan teweeg gebring word deur oogladings tydens snoei te verhoog. Produsente kan hiervoor talle snoeipraktyke gebruik. Die aantal oë word toegeken met inagneming van die groeikrag – geiler stokke sal dus meer of langer draers kry asook ’n
hoër ooglading.

Lowerbestuurspraktyke

Lowerbestuur is daar om vegetatiewe groei te akkommodeer sonder verlies aan vrugbaarheid of kwaliteit. Lig in die lower is ’n belangrike kwessie en suier-, top- en blaarbreekaksies word uitgevoer om te verhoed dat stokke te dig en onvrugbaar raak. Produsente probeer ook om arbeid te bespaar deur sekere praktyke af te skaal of heeltemal uit te skakel. Wingerde word byvoorbeeld toegelaat om oop te lê om voldoende deurlugting en beligting te verseker. Voorheen is voorkeur gegee aan vertikale lootposisionering waar alle lote tussen die loofdrade ingedruk word en dus verdigting vergemaklik sou daar nie gesuier word nie.

Bemesting en besproeiing

Groeikrag het ’n regstreekse uitwerking op produksie en daarom pas produsente hul bemestings- en besproeiingspraktyke volgens spesifieke wyndoelwitte aan. Premiumwynblokke het matige groei en drag wat in balans is, terwyl bulkwynblokke sterker groeikrag toon wat ’n groter lower en drag kan akkommodeer. Besproeiing en bemesting word hierby aangepas. Blokke met hoër produksie word telkens geassosieer met goed gedreineerde grond, diep grondvoorbereiding, meer stikstof en goeie watervoorsiening. Tekortbesproeiing word slegs toegepas indien die wynprys dit toelaat.

Alternatiewe prieelstelses

Die gekose prieelstelsel het ’n groot impak op winsgewendheid en ál meer produsente gebruik alternatiewe prieelstelsels of bestuur hul bestaande stelsel/s anders. Alternatiewe prieelstelsels het talle voordele en kan byvoorbeeld produksie verhoog deurdat verhoogde blaaroppervlak ’n groter oes kan rypmaak. Arbeidskostes kan ook verlaag word, byvoorbeeld waar ooplêstelsels gebruik word. Sonligpenetrasie kan verbeter word en meer gebalanseerde groeikrag is ook moontlik. Laastens kan beter gehalte teen hoër produksie ook moontlik wees danksy groter effektiewe lowers.

Uitkap van nie-winsgewende blokke

Laer-produserende blokke of blokke waarvan die druiwe nie meer in aanvraag is nie, moet uitgekap word.

Doeltreffende arbeidsbestuur

Arbeid kan meer doeltreffend bestuur word deur waar moontlik van meganisasie gebruik te maak of om meer opgeleide arbeiders te gebruik waar handearbeid nodig is.

Aanplanting van nuwe wingerd

Slegs winsgewende produsente plant tans nuwe wingerde aan, maar hulle doen noukeurige beplanning vir beter produksie met betrekking tot grond, kultivar, onderstok, klone, prieel, besproeiing, bemesting, snoei en lowerbestuur.

Tydsberekening van aksies

Goeie tydsberekening is geweldig belangrik, veral as dit by al die verskeie wingerdaksies kom. Sodoende kan kostes bespaar word en effektiwiteit verbeter word. ’n Aksie wat nie op die optimale tyd plaasvind nie, sal nadelige gevolge hê.

’n Paar produsente het terugvoer gegee oor die praktyke wat hulle in hul wingerd toepas en hoe dit hulle in staat stel om die regte kwaliteit op ’n winsgewende wyse te lewer.

Willie Dreyer, Swartland

Onkruidbeheer is van kardinale belang, siende dat baie wingerde in die Swartland droëland is. Daarom glo ons in ’n grondkombers wat waterverlies weens die son verminder. Die probleem met dekgewasse is dat hulle later ook kan uitdroog en dan nie meer effektief is nie. ’n Mens kan ook natuurlik kaf gebruik, maar die vervoer van die kaf sowel as die arbeid is duur. Daarom gebruik ons eerder die dis van grond. Die grond word ongeveer 10 cm diep fyn losgemaak. Die kapillêre aksie van die water na die grondoppervlak word sodoende verbreek. ’n Mens kan dit in aksie sien as jy die losgemaakte droë grond wegkrap en op ’n diepte van 10 cm vogtige grond aantref.

As ’n mens na hoëdigtheidwingerde met besproeiing kyk, is wingerd in die Swartland tradisioneel teen 1.2 x 3 m aangeplant. As daar dus 2 778 stokke per hektaar is en elkeen 3.6 kg lewer, word ’n opbrengs van 10 ton per hektaar verwag. Ons het met ’n nuwe praktyk begin met die doel om dieselfde kwaliteit te kry as die tradisionele praktyk en het nou al bosstok en opgeleide wingerde wat albei vier jaar oud is. Met die nuwe praktyk, wat wel dieselfde kwaliteit druiwe lewer, word stokke teen ’n digtheid van 1.2 x 1.2 m aangeplant. Daar is 6 944 stokke per hektaar en elkeen lewer 3.6 kg, wat ’n opbrengs van 25 ton per hektaar gee. Let daarop dat besproeiing hier ook noodsaaklik is.

’n Ander belangrike faktor is die regte pluktyd. As ’n mens dié aspek verkeerd benader, kan al die harde werk om kwaliteit te verseker ongedaan gemaak word. Daar is natuurlik verskeie faktore en opinies wat kan bepaal wanneer druiwe optimaal ryp is, maar dit gaan op die einde oor waarvoor die druiwe bestem is en ’n kombinasie van talle ander faktore (soos suikerinhoud en fenoliese rypheid). ’n Swakker rooi blok kan dalk byvoorbeeld vroeër gepluk word, byvoorbeeld teen 20˚ Balling. As die druiwe eintlik vir rosé bestem is, wil ’n mens nie dit laat hang tot by 25˚ Balling nie, want jy gaan eenvoudig nie die kwaliteit kry wat jy wil hê nie.

Gert Engelbrecht, VinPro wingerdkundige in die Olifantsrivier-wynstreek

Dit is bekend dat die Olifantsriviergebied baie droog is. Vredendal kry byvoorbeeld maar 150 mm reën per jaar. Daarom is ons baie afhanklik van besproeiing en ons gebied word dus as ’n intensiewe besproeiingsgebied geklassifiseer. Met die droogte in die Wes-Kaap word ons produsente die laaste paar jaar genoodsaak om meer oordeelkundig met die beperkte water te besproei. Ons wil dus die beste produksie sowel as kwaliteit behaal en elke liewe druppel laat tel.

Om dit te bereik word daar toenemend van grondwater-moniteringstoestelle gebruik gemaak. Die algemeenste tipe is die kapasitansiemeters. Die voordeel hiervan is tweevoudig. Produsente bestuur besproeiingskostes beter en druifkwaliteit verbeter ook danksy beter balans in die wingerde in terme van drag teenoor groeikrag. Hierdie verwikkeling tel nou momentum op in ons gebied, maar is beslis nie beperk tot die Olifantsrivier nie. Die tegnologie word reeds ’n geruime tyd in die res van die bedryf met sukses toegepas.

My mening is dat oordeelkundige besproeiing, saam met korrekte grondvoorbereiding, die praktyke is wat sekerlik die grootste verbetering in kwaliteit kan teweeg bring in ons gebied, juis omdat ons sit met beperkte water en gereelde baie warm periodes. Korrekte grondvoorbereiding verseker ’n goed ontwikkelde wortelstelsel en bevorder dus die stok se vermoë om ná hittepieke te herstel.

Die gebruik van oophang-prieelstelsels om sonligindringing in die trossone te verbeter word al lank in die Olifantsrivier toegepas. Sonlig in die prieelstelsel is belangrik vir onder andere vrugbaarheid en goeie rypwording en digte lowers werk dit tee.

Ryno Maree, Kanonkop

Baie faktore speel ’n rol as dit by kwaliteit kom, maar nie almal kan beheer word nie. Terroir en grond is maar net twee voorbeelde hiervan. Die faktore wat wel onder ons beheer is, is basiese dinge en tydsberekening.

Ons het ons snoeitegniek laas winter met die hulp van ’n Italiaanse groep, Simonit & Sirch, aangepas. Die hoofrede was om ons wingerde se leeftyd te verleng deur tandpyn te verminder. Die fokus is om kleiner snoeiwonde te maak op jonger hout en genoeg spaarhout bo jou ogies te los vir terugsterwing. Die ou hout op stokke, die sogenaamde “kerse”, word gehou en dien as ’n stoorplek vir reserwes.

Dekgewasse help met die opbou van organiese materiaal en bewaring van vog, en kompeteer met onkruide, daarom saai ons in elke ry. Elke blok op jou plaas se dekgewas het ’n doel, byvoorbeeld die beperking van windskade, om vog uit nat grond te trek of om gekompakteerde grond te breek. Ons het ook nou begin kyk na groter saadmengsels, wat grondkwaliteit bevorder.

Wat die instelling van nuwe praktyke betref, het ons tydens die vorige seisoen ’n proef op ’n gedeelte van ’n blok begin. Dit het die toetsing van blare se suikerinhoud behels. Afhangende van die voedingselemente waarmee die wingerd bespuit word, kan die suikerinhoud van die plant styg of daal. ’n Hoër suikerinhoud maak die plant meer siekte- en insekbestand. Daarbenewens word ook meer suiker in die grond vrygestel, wat grondgesondheid bevorder.

Petrus Bosman, Bosman Family Wines

Dit is vir ons baie belangrik om van die begin af die regte kultivarkeuse te maak met goeie begrip vir die grond en omgewing (terrior). Dan moet die beste moontlike keuse ten opsigte van onderstok, kultivar en kloon gemaak word. Ons bestee baie tyd daaraan om hierdie keuses te deurdink en dit veroorsaak soms lang debatte onder ons – soms tot ’n jaar lank!

Ons fokus op goeie kwaliteit is gemik op die grond, bemesting, besproeiing, aksies op die plant self en goeie tydsberekening.

Goeie grondvoorbereiding met al die nodige regstellings en bemesting is ’n beginpunt. Kwaliteitblokke word fyner gesnoei met die fokus op plasing en regte getal draers. Met suiering is tydsberekening belangrik (voor blominisiasie) en vir beter deurlugting sowel as beligting word sylote uitgehaal en blare gebreek. Stikstoftoedienings word ook op kwaliteitblokke teruggehou en besproeiingskedulering vir kwaliteitblokke word sorgvuldig beheer. By deurslaan van 80% haal ons trosse wat nog heeltemal groen is af, wat ook as ’n mate van oesbeheer dien. Wanneer die druiwe optimaal ryp is, word dit met die hand gepluk. Laastens fokus ons daarop om wingerdplantmateriaal van siektes skoon te hou en veral jong blokke moet vry van rolblaarvirus wees.

Soos gepubliseer in die Julie 2017 uitgawe van Wynland tydskrif.

Go Back