News

Druifsoorte by die dosyne! Só het die Suid-Afrikaanse wynbedryf se verskeidenheid kultivars verander en uitgebrei.

 Wanneer jy voor ’n winkel se wynrak staan en die diversiteit van Suid-Afrikaanse wyne aanskou, kan die eens redelik eenvoudige besluit van wat om te koop nou oorweldigend wees. Suid-Afrika se dinamiese wynbedryf het ’n ver pad gestap sedert Jan van Riebeeck meer as 360 jaar gelede die eerste wingerd in die Kaap geplant het. Soos die navorsing oor kultivars en Suid-Afrika se terroir en mark verbeter, skep dit ’n magdom geleenthede vir die uitbreiding en aanplanting van verskillende druifsoorte.

Geskiedenis van SA se wynbedryf

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf vier jaarliks sy verjaardag op 2 Februarie, ná Jan van Riebeeck op daardie dag in 1659 in sy dagboek geskryf het, “Vandag, prys die Here, wyn is vir die eerste keer van Kaapse druiwe gemaak.” Hy het reeds sedert 1655 wingerdlote van onder meer Frankryk en Spanje ingevoer en in die Kompanjiestuin geplant. Volgens die Chenin Blanc-vereniging was dié druifsoort een van die eerste wat na Suid-Afrika gekom het, saam met Groendruif (Sémillon) en Fransdruif. Eens op ’n tyd het Sémillon 93% van Kaapse wingerde verteenwoordig, waar dit vandag slegs 1% van die totaal uitmaak.

Charles Visser van Vititec is van mening die drastiese afname in Sémillon-aanplantings kan toegeskryf word aan die toenemende gewildheid van ander kultivars soos Sauvignon Blanc. Volgens hom het Sémillon ook ’n baie sagte dop en is daarom geneig tot erge botritis. Die kultivar se suurinhoud is ook gemiddeld tot laag, wat ongewens is in warmer gebiede.

Sauvignon Blanc is een van Suid-Afrika se gewildste witwynkultivars en is reeds in die 18de eeu wyd op tuisbodem aangeplant. Maar soos produsente die standaard van Chenin Blanc verhoog het, het dit Sauvignon Blanc in terme van gewildheid verbygesteek.

Merlot is eers in 1910 hier aangeplant en is oorspronklik gebruik om met Cabernet Sauvignon te meng. Deur die jare het die gewildheid van dié kultivar toegeneem en word dit deesdae met groot sukses op sy eie gebottel. Hoewel Chardonnay vandag redelik gewild is, veral vir veroudering en elegante wynreekse, is dit eers in 1982 hier aangeplant.

In 1925 het prof Al Perold dit reggekry om deur middel van die kruisbestuiwing van Pinot Noir en Hermitage (Cinsaut) ons eie eg Suid-Afrikaanse druifsoort die lig te laat sien. Pinotage het in 1991 ’n hupstoot gekry toe Beyers Truter van Kanonkop in die internasionale wyn- en spiritus-kompetisie aangewys is as wynmaker van die jaar vir sy 1989 Pinotage. Dit het gelei het tot ’n beduidende internasionale belangstelling in Pinotage.

In 1927 het George Canitz van Muratie die eerste Suid-Afrikaanse Pinot Noir gebottel. Hoewel dié druifsoort deur sommige wynboukundiges as temperamenteel beskryf word, is daar heelparty wynprodusente wat dit met groot sukses geplant het en nou bottel. Maar dit maak slegs 1.2% van rooiwynvariëteite in Suid-Afrika uit.

Druifsoorte verskil van streek tot streek soos die klimaat en die terroir verander. Terroir is die totale natuurlike omgewing waarin wyn geproduseer word en wat ’n invloed op ’n wyn se karaktereienskappe soos smaak en geur het.

Volgens Gert Engelbrecht van Vinpro is daar in die Olifantsriviervallei tot en met die laat tagtigerjare Chenin Blanc, Palomino (Vaalblaar/Fransdruif), Sultana en Hanepoot geplant. Volgens hom is Palomino met Colombar vervang en beslaan dit nou amper net soveel hektaar soos Chenin Blanc in die streek. “In die middel van die negentigerjare het die veranderinge in die bedryf ook in die Olifantsriviergebied groot veranderinge teweeggebring,” sê Gert. “Die koms van rooi kultivars, Chardonnay en Sauvignon Blanc was kenmerkend van hierdie tydperk.”

SA wynbedryf se toekoms is blink

Hoewel die meeste variëteite in Suid-Afrika ingevoer is, is daar volgens Wosa ongeveer ses plaaslike kruisings wat bekendgestel is, waarvan Pinotage die bekendste is. Sémillon is besig om in gewildheid toe te neem en Suid-Afrikaanse Pinot Noir raap ook heelwat gesogte internasionale pryse op, wat wynprodusente aanmoedig om dié temperamentele druifsoort te probeer tem.

Volgens Zakkie Bester, eienaar van Bester Family Wines gaan klimaatverandering Suid-Afrikaanse wynprodusente dwing om buite die boks te dink. “Ons sal moet fokus op variëteite wat in harde omstandighede kan floreer. Ek het die geleentheid gehad om met Grenache Blanc en Noir te werk en ek dink dit toon groot potensiaal in die Swartland,” sê Zakkie.

“Die toekoms van die wynbedryf lê in druifsoorte wat spesifiek goeie gehalte en produksies kan lewer en met hittegolwe kan saamleef,” sê Gert. Hy is ook van mening dat markaanvaarding die groot probleem met unieke druifsoorte is. “Ons het Pinotage en Chenin Blanc aangeneem en ons eie styl ontwikkel. Ons moet oop en ontvanklik wees vir alternatiewe kultivars en dit ’n goeie go gee om die potensiaal te ondersoek.”

 

 

Hoe lyk SA se wynbedryf nou?

Daar is ’n wye verskeidenheid druifsoorte in Suid-Afrika wat volgens wetgewing gebruik kan word om wyn te produseer. Ingevolge artikel 60 van die Drankwet is daar ongeveer 106 kultivars wat vir wyn gebruik mag word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) was daar in 2017 ongeveer 94 545 ha wingerd in Suid-Afrika wat wyndruiwe produseer, waarvan 52 201 ha wit en 42 344 ha rooi druifsoorte was. Wit variëteite neem 63.2% van aanplantings in beslag, waarvan 33.6% Chenin Blanc is. Altesame 36.8% van die totale aanplantings in Suid-Afrika behoort aan rooiwyn-druifsoorte, waarvan Cabernet Sauvignon die meeste geplant word (11%), gevolg deur Shiraz (10.3%) Pinotage (7.4%) en Merlot (5.8%).

Suid-Afrika se witwyn-druifsoorte wissel van gewilde kultivars soos Chenin Blanc, Colombar, Chardonnay en Sauvignon Blanc tot minder bekende kultivars soos Pinot Gris (Grigio), Nouvelle en Grenache (Blanc) wat op klein skaal in Suid-Afrika geproduseer word. Ander druifsoorte soos Viognier word ook op klein skaal geproduseer, maar word by die dag gewilder soos internasionale neigings verander.

Rooi druifsoorte in Suid-Afrika wissel van gewilde kultivars soos Cabernet Sauvignon, Merlot, Pinotage en Shiraz tot minder bekende kultivars soos Barbera, Zinfandel, Petit Sirah en Mourvèdre wat op ’n aansienlik kleiner skaal aangeplant word.

Die belangrikste faktore wat bepaal watter variëteite aangeplant word, sluit in klimaat, terroir en die markaanvraag. Volgens Stephan Joubert, wingerdboukundige van DGB het die mark se aanvraag ’n baie groot effek op die kultivars wat produsente plant. “Die verwagte inkomste/hektaar dra egter die meeste gewig, en dit word bepaal deur die vraag en die gemiddelde verwagte ton/ha. Sekere variëteite is hoog in aanvraag, maar word nie so vinnig aangeplant nie. Weens die laer produksies van hierdie variëteite word daar in baie gevalle nie ’n lewensvatbare inkomste/ha genereer nie,” sê Stephan.

Cederberg Privaat Kelder is die hoogste geleë wynplaas in die Wes-Kaap, aldus die beskrywing “wines with altitude”. Hulle produseer skaarser druifsoorte soos Pinot Noir, Viognier, Sémillon en selfs Bukettraube op klein skaal. Pinot Noir is een van die moeilikste wyne om te maak omdat dit so ’n sensitiewe variëteit is, sê Tammy Turck-Nel, wynmaker by Cederberg Privaat Kelder. Volgens haar is die Suid-Afrikaanse mark nog onseker oor Pinot Noir. “As wynprodusente het ons ’n baie groot taak om vooropgestelde idees af te breek en wynliefhebbers op te voed. Ek sou dink ons het meer geleentheid in die mark met Pinot Noir as met Sémillon.”

Daar is slegs ’n paar wynplase in Suid-Afrika wat nog Bukettraube produseer. Volgens Sawis is ongeveer 332 ha in 1999 met Bukettraube geplant, maar teen 2017 het dit afgeneem na slegs 50 ha. Cederberg Privaat Kelder het ongeveer 10.91 ha Bukettraube-wingerd in die Cederbergstreek.

Noemenswaardige variëteite wat volgens Wines of South Africa (Wosa) oor die afgelope paar jaar meer gekweek word, sluit in Sauvignon Blanc, Chardonnay, Shiraz en Pinot Noir.

Go Back