News

Die Stronger Together-inisiatief vat wynprodusente se hand om saam ‘n veilige, gesonde omgewing vir werknemers en werkgewers te skep en handelsbande te versterk.

Jy betaal jou werknemers die minimumloon (dalk nog bietjie meer) al gaan dit soms swaar, voldoen aan die arbeidswetgewing en is geakkrediteer by die etiese handelsorganisasie, Wieta. Jy sien goed om na jou mense.

Maar soms gebeur daar dinge wat ongesiens verbygaan of wat nêrens opgeskryf staan as taboe nie en werknemers kwesbaar kan laat, hul menseregte kan skend en tot ’n afbrekende werkskultuur kan lei. Dit sluit in die invordering van boetes of terughou van betaling as straf, die afpersing van werknemers om oortyd te werk sodat hulle hul werk behou of aankope kan afbetaal, en verbale aftakeling van werknemers.
Die Stronger Together-inisiatief bied ondersteuning aan besighede in die wyn- en vrugtebedryf om die risiko verbonde aan hierdie tipe arbeidswanpraktyke – wat wêreldwyd as moderne slawerny beskou word – in hul eie besighede en voorsieningskettings uit te roei.

“Ek glo vas die meerderheid Suid-Afrikaanse vrugte- en wynprodusente doen werklik hul bes om dinge op die regte manier te doen, maar soms is daar grys gebiede rondom die etiese kant van besigheid en ons is hier om dit te help uitklaar,” sê Caroline Poole, programkoördineerder by Stronger Together in Suid-Afrika.

Die program bied praktiese bystand aan produsente in die vrugte- en wynbedryf om eerstens te verstaan watter tipe praktyke as moderne slawerny bestempel word en dit in die Suid-Afrikaanse konteks te identifiseer. Dit bied ook raad oor hoe om dit te hanteer indien dit wel in hul besigheid voorkom.
Hoewel Stronger Together in November verlede jaar plaaslik van stapel gestuur is saam met die etiese handelsorganisasies Wieta en Siza, is die inisiatief reeds in 2013 in die Verenigde Konkinkryk gestig saam met nege van dié land se grootste supermarkte. Buiten die VK werk hulle ook onder andere nou saam met Swede se Vinmonopolet en Systembolaget en het hulle ’n voetspoor wêreldwyd in die voedsel-, drank-, kleinhandel-, verbruikersgoedere-, konstruksie- en visserybedrywe.

DIE KONTEKS
Besighede en verbruikers regoor die wêreld fokus al hoe meer op die beskerming van mense teen uitbuiting. Dit kan gesien word met die bekendstelling van regulatoriese vereistes soos die VK se Wet op Moderne Slawerny (2015), die hangende Wet op Moderne Slawerny in Australië, die Franse Wet op Waaksaamheidsplig (2017) en die Kaliforniese Wet op Deursigtigheid in Verskaffingskettings (2010). As sodanig kyk oorsese wyninvoerders ook met ’n vergrootglas na voorsieningskettings in die Suid-Afrikaanse wynbedryf – van die produsent tot die kelder en die rak.

“Met byna die helfte van Suid-Afrikaanse wynuitvoere wat op rakke in die VK, Swede en Denemarke staan – waar verantwoordelike arbeidspraktyke toenemend ononderhandelbaar is – is dit onontbeerlik vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf om te demonstreer dat daar proaktiewe maatreëls in plek is om die voorkoms van moderne slawerny te verminder,” sê Caroline.
Buiten internasionale menseregtestandaarde en uitvoerwetgewing, spreek Suid-Afrikaanse wetgewing ook hierdie praktyke aan (sien kassie).

RAAK BETROKKE
Caroline sê die eerste stap om moderne slawery uit te roei is om gratis op Stronger Together se webtuiste, stronger2gether.org, te registreer en sodoende toegang tot ’n rits omvattende handleidings, pamflette, plakkate en video’s te verkry wat die nodige inligting in ’n eenvoudige formaat uiteensit.
“Ons bied ook gratis opleidingsessies aan spesifiek vir vrugte- of wynprodusente in die onderskeie streke,” sê sy. “Produsente kan aanlyn registreer of ons regstreeks kontak. Die werkswinkels maak die gesprek oop rondom die onderwerp en bied uitstekende Suid-Afrikaans-gebaseerde hulpmiddels aan om produsente te help om enige gevalle van moderne slawerny proaktief aan te spreek.”

Altesaam 276 mense het tot dusver die werkswinkels bygewoon. Elke bywoner ontvang ’n bywoningsertifikaat. “Ons ontvang ook heelwat navrae van aankopers oor watter van hul verskaffers die werkswinkels bygewoon het,” sê Caroline.

Carel Malherbe, Backsberg se bloubessiebestuuder, het een van die werkswinkels bygewoon. “Ons ondersteun die werk wat Stronger Together doen,” sê hy. “Hulle het werklik ’n gesindheid van saamwerk met produsente om hul etiese praktyke deurlopend te versterk. Die werkswinkels bied ’n veilige ruimte waarin belangrike onderwerpe opgehaal en bespreek kan word.”

Stronger Together het verder saamgespan met die nasionale organisasies, die Suid-Afrikaanse Nasionale Mensehandel-hulpbronlyn en die Heilsleër. Besighede wat potensiële gevalle van onetiese praktyke ontdek, kan hierdie organisasies kontak om dit aan te meld en hulp en advies te bekom.

Programvennote Wieta en Siza pas ook tans hul etiese handelskodes aan vir Stronger Together-uitkomstes. “Ek wil nie sien dat enigeen van ons hardwerkende produsente onverhoeds betrap word rondom die negatiewe praktyke verbonde aan moderne slawerny nie,” sê Caroline. “Rus jou toe met kennis oor die kwessie en hoe om dit te hanteer. So help jy om ’n veilige werksomgewing vir jou mense te skep en versterk jy die bande met jou globale vennote in besigheid.”

HOE LYK MODERNE SLAWERNY?
• Konstante oortyd sonder dat die werknemer ’n opsie het.
• Onregverdige werwingspraktyke deur derde partye.
• Boetes of terughou van lone as straf.
• Werkgewer in besit van werkgewers se ID-dokumente sonder hul geskrewe toestemming of toegang.
• Verbale of fisieke misbruik, insluitend dreigemente.
• Toesluit van werknemers tydens of ná werksure, en vaste toiletonderbrekings.
• Toestaan van lenings aan werknemers sonder ’n skriftelike kontrak.
• Indiensname onder valse voorwendsels.

OP SKRIF
Suid-Afrikaanse wetgewing spreek die risiko’s en kwesbaarhede rondom moderne slawerny aan deur die volgende wette:
• Menseregtehandves en SA Grondwet
• Wet op Basiese Diensvoorwaardes
• Sektorale Vasstelling 13 – Plaaswerkersektor
• Wet op Indiensnemingsdienste
• Wet op die Uitbreiding van Sekerheid en Verblyfreg
• Wet op Korrektiewe Dienste
• Wet op Voorkoming en Bestryding van Mensehandel
• Wet op Arbeidsverhoudinge

BLITSLYNE
Meld ongerymdhede aan of kry advies by:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Mensehandel se hulplyn: 0800 222 777.
Die Heilsleër: 08000 RESCU (73728).
Stronger Together: stronger2gether.org

Go Back