News

Die wynbedryf is reg vir ’n nuwe groeifase, ondanks ’n kleiner oes en groter finansiële druk.

 Die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan ’n keerpunt in 2018 verwag. Wynprodusente en kelders staar moeilike realiteite soos ’n kleiner wyndruifoes en toenemende finansiële druk in die gesig, maar is gereed om uitdagings met ’n hernude fokus aan te pak en geleenthede op die globale, politieke en ekonomiese horison aan te gryp.

“Ons gaan nou die begin van ’n nuwe groeifase binne,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro. Hy het afgevaardigdes by die wynbedryfliggaam se 13de jaarlikse Nedbank Vinpro-inligtingsdag in Januarie toegespreek.

Kleinste oes in 12 jaar

“Die wyndruifoes van 2018 gaan na verwagting die kleinste sedert 2005 wees weens ’n afname in die aantal wingerde, die voortslepende droogte en verliese vanweë ryp en hael,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkonsultasiediens.

Die bedryf voorspel die kleiner oes gaan tot ’n verlies aan inkomste van R700 miljoen by die plaashek lei – dit in ’n tydperk waar produksiekoste oor die afgelope 10 jaar verdubbel het en die minimumloon vir plaaswerkers in Mei met 17% gaan toeneem.

Wyntekort vereis hoër pryse

Die goeie nuus is wynpryse gaan na raming styg weens ’n dreigende wyntekort.

Voorraadvlakke gaan die laagste in 15 jaar wees, het Basson tydens sy jaarlikse oorsig oor die stand van die wynbedryf gesê, wat vordering teenoor die wynbedryf se WISE strategiese teikens vir 2025 meet. “Gryp nou die geleentheid aan om hoër pryspunte te beding,” sê hy. “Die jaar 2018 moet die nuwe basislyn wees vanwaar ons waarde vorentoe moet groei.”

Dit is bemoedigend dat die volume plaaslike wynverkope verlede jaar met 2.8% toegeneem het na 406 miljoen liter in vergelyking met 2016, maar selfs beter is die nuus dat die waarde vir dieselfde tydperk met 8.6% toegeneem het na R13.2 miljard.

Wees onvergeetlik

Skep ’n onvergeetlike handelsmerk en jy sal groot sukses behaal. Lulie Halstead, uitvoerende hoof van die Brits-gebaseerde marknavorsingsmaatskappy Wine Intelligence, sê handelsmerke moet ’n erkenbare, uitspreekbare en onvergeetlike naam of kenteken hê.

“Wyn is universeel sinoniem met woorde soos beloning, bederf, ontspanning en feesviering,” sê sy. “Wyntoerisme en die gasvryheidsbedryf skep die ideale geleentheid om jou handelsmerk deel van ’n verbruiker se blywende herinneringe te maak.”

Vir die wynbedryf om bo te bly moet daar minder individuele handelsmerke wees, maar meer gefokusde en sterker handelsmerke by elke pryspunt, sê Mike Ratcliffe, besturende direkteur van Warwick Wines. “Ek glo werklik ons as bedryf moet onsself daartoe verbind om te waak teen fragmentering. Ons moet verwatering teenstaan en beweeg na ’n era van groter spesialisering.”

Neem eienaarskap

Die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is in die hande van elke persoon of entiteit in die waardeketting, sê Anton Smuts, voorsitter van Vinpro.

“Produsente en direksies moet volle eienaarskap en verantwoordelikheid neem vir hul produk deur ingelig te wees oor marktendense en prysstrukture.”

Terselfdertyd is dit die bedryf se gesamentlike verantwoordelikheid om transformasie en talentontwikkeling op elke vlak te dryf. Volgens Basson is nagenoeg R72 miljoen (20%) van die wynbedryf se statutêre heffings oor die afgelope vier jaar in transformasie belê en het die privaatsektor R125 miljoen aan gemeenskapsprojekte bestee.

Twee derdes van die wyndruifoes word onder etiese omstandighede geproduseer, volgens die Wine and Agricultural Ethical Trading Association (WIETA).

“Die ontwikkeling en behoud van talent in die wynbedryf bly ’n prioriteit van Vinpro,” sê Basson. “Ons werk aktief saam met ander belangegroepe om dit te bespoedig.”

Politiek en ekonomie lyk beter

Die politieke ontleder Max du Preez sê die verkiesing van Cyril Ramaphosa as die ANC se nuwe leier is ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis. “Hy moenie gesien word as ’n messias nie, maar sal beslis die land se natuurlike orde herstel.”

Die globale ekonomie tel nou in Suid-Afrika se guns, maar die plaaslike ekonomie is traag weens politieke en beleidsonsekerheid, sê Isaac Matshego, ’n ekonoom van Nedbank, gesê.

Die voorgestelde wetsontwerp rondom onteiening van grond sal nie net werkskepping in en die inkomstestrome van die landbou-, myn- en vaardigheidsektor beïnvloed nie, maar ook die banksektor omdat dit kapitaalintensiewe sektore is. “Ons moet mooi na hierdie sektore omsien om te verseker hulle vaar goed,” sê Matshego.

Ramaphosa se moontlike verkiesing as die land se president tydens die 2019 nasionale verkiesings sal na verwagting onsekerheid verminder en beleggingsvertroue verhoog wat die ekonomie sal versterk.

Werk saam, groei saam

Ooreenkomstig die tema van groei en ’n nuwe begin, het Vinpro, nou in sy 15de bestaansjaar, ’n nuwe logo en waardeproposisie aangekondig om sy verbintenis tot volhoubare groei te versterk.

“Nedbank is verbind tot die volgehoue ondersteuning van die wynbedryf,” sê Herman de Kock, uitvoerende hoof: Besigheidsbanksake (Verkope) by Nedbank. “By geleenthede soos dié help Vinpro ons om die landskap beter te verstaan en geleenthede vir samewerking te identifiseer om winsgewendheid, globale mededingendheid en volhoubaarheid in die wynbedryf te verbeter.”

Nedbank was vanjaar vir die 12de agtereenvolgende jaar die hoofborg van die Inligtingsdag. Die geleentheid is ook deur Old Mutual en Old Mutual Agri Insure geborg. l

Go Back