News

ʼn Dreigende wyntekort noodsaak dat pryse opwaarts aangepas word om te verseker dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf volhoubaar kan voorsien.

Die wynbedryfliggaam Vinpro rapporteer in sy amptelike jaarlikse Wynoesverslag 2018 dat wyndruifproduksie teen 1 220 920 ton sowat 15% laer as in 2017 is, en sowat 170 miljoen liter minder wyn vanjaar gemaak gaan word.

Die afname in wynproduksie kan toegeskryf word aan ʼn voortslepende droogte, ʼn afname in oppervlak onder wyndruiwe én rypskade in sekere gebiede.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2017 altesaam 447 miljoen liter wyn in die plaaslike mark verkoop en 448 miljoen liter uitgevoer. In totaal is 895 miljoen liter dus verkoop, 3.5% meer as in 2016. In 2018 is die uitdaging dat laer produksie, tesame met voorraadvlakke wat ʼn ekwilibrium bereik het, tot ʼn wesenlike wyntekort gaan lei en die bedryf dus nie die plaaslike en uitvoermarkte teen 2017 se vlakke sal kan diens nie,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

Winsgewendheid onder druk

“Na jare se finansiële druk het wyndruifprodusente ʼn inkomste-aanpassing van nagenoeg 30% nodig om ʼn meer winsgewende en volhoubare omgewing te verseker. Tans verdien hulle gemiddeld ʼn skamele 1% opbrengs op belegging, wat nie die vestiging van wingerde regverdig nie,” sê Rico.

Meer as ʼn derde van wyndruifprodusente boer teen ʼn verlies en die bedryf het sowat 25% minder produsente as ʼn dekade gelede. Volgens die bedryf se strategiese raamwerk (WISE), moet wyndruifprodusente ʼn opbrengs gelykstaande aan die verbruikersprysindeks (VPI) plus 5% verdien om volhoubaar te wees, wat ander landbouvertakkings wel bied, aldus Rico.

Heelwat wyndruifprodusente verlaat dus die bedryf, trek wingerde uit om plek te maak vir meer winsgewende gewasse, of vervang bloot nie wingerde nie. Die wingerdoppervlak het ook met nagenoeg 9% gekrimp in die afgelope tien jaar.

“Die enigste manier om te verseker dat ons volhoubaar bly voorsien, is om hoër pryse vir ons wyne te vra. Sodoende het wyndruifprodusente voldoende finansies om nuwe wingerde te plant of ou wingerde te vervang en produksie op te stoot, wat hul in staat sal stel  om die reeds wesenlike belegging in sosio-ekonomiese aspekte soos verdere opleiding en opheffing te bespoedig,” sê Rico.

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente is innoverend en het reeds oor die afgelope paar jaar baie gedoen om aan te pas by globaal veranderende weerpatrone. Dit sluit die gebruik van alternatiewe praktyke en tegnologie, en die belegging in nuwe, meer droogtebestande klone en kultivars in, terwyl die finansiële lewensvatbaarheid van wingerdblokke deurlopend evalueer word en nuwe geografiese streke vir wingerdverbouing ondersoek word.

“Dis bemoedigend dat ons in die korttermyn reeds bewyse sien van bogemiddelde prysaanpassings in die Suid-Afrikaanse kleinhandel in sekere kategorieë, en verdere aanpassings word in die mediumtermyn verwag. In ʼn omgewing van voorraadtekorte sowel as die moontlikheid om beide in die plaaslike én uitvoermarkte te speel is die realiteit dat die hoogste bieër gaan wen,” sê Rico.

 Groei waarde

ʼn Globale wyntekort het ook ʼn positiewe effek op beide volume- en waardegroei in die belangrikste uitvoermarkte.

Europa se wynproduksie is die laagste in sowat 45 jaar. Spanje, Frankryk en Italië is veral hard getref deur klimaatstoestande soos ryp en droogte. Die feit dat dit in hierdie drie lande gelyk gebeur het, dra by tot ʼn wesenlike afname in wyn wêreldwyd.

Vanuit ʼn Suid-Afrikaanse perspektief bied dit die geleentheid om goeie uitvoerooreenkomste te smee – nie net in terme van volume nie, maar ook om waarde te groei. Tegniese aanpassings kan aan Suid-Afrikaanse uitvoerders die geleentheid gee om die ware voordeel uit die gehalte van die wyne wat die bedryf bied te trek.

ʼn Afname in volumes beskikbaar vir uitvoer kan Suid-Afrikaanse wynuitvoerders in staat stel om beter pryse met internasionale invoerders te beding.

Volgens Rico sal die tekort, soos met enige ‘krisis’ of eksterne impuls, moontlik gesprekke aan die gang sit rondom tradisionele besigheidsmodelle en die roete mark toe. “As daar na internasionale tendense gekyk word, glo ons dat opbouende gesprekvoering tot nuwe besigheidsverhoudings, samesmeltings en/of nuwe aankope kan lei,” sê hy.

“Suid-Afrika se fokus op uitvoermarkte is tweeledig,” sê Siobhan Thompson, bedryfshoof van Wines of South Africa (Wosa).

Eerstens hou die bedryf tradisionele markte in stand – die VK, Duitsland, Nederland, Swede, Kanada en Japan – tesame met waardegroei (rand per liter). Tweedens fokus die bedryf daarop om beide die volume en waarde van uitvoere op te stoot in markte met wesenlike groeipotensiaal soos die VSA, China en Afrika.

“Ons visie is om die beeld en persepsie van Handelsmerk SA deurlopend op te skerp, en Suid-Afrika te posisioneer as ʼn land wat van die beste wyn ter wêreld maak. Deur dít by internasionale verbruikers tuis te bring en in stand te hou, glo ons waardegroei sal volg,” sê Siobhan.

 Wat wag om die draai?

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voorspel die wingerdstand teen 85 000 ha sowat 10% kleiner sal wees in 2022 teenoor 2017, produksie sal op 1.3 miljoen ton staan en die bedryf sal ʼn tekort van 120 miljoen liter wyn hê.

Daar word verwag dat gemiddelde grootmaat wynpryse met ongeveer 15% gaan toeneem in die volgende jaar. “Dit, tesame met die bo-inflasie toename in aksyns en ʼn toename in BTW, sal geweldige druk op kleinhandelswynpryse plaas. Verbruikers kan verwag om 8% tot 11% meer vir hul gunstelingwyn te betaal,” sê Yvette van der Merwe, besturende direkteur van Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (Sawis).

Die afwaartse kurwe in wynproduksie laat baie min spasie vir volumegroei vorentoe. Maar gegewe makro-ekonomiese faktore doen die geleentheid hom voor om beide volume en waarde te laat toeneem.

“Brandewyn, wat relatief sensitief is ten opsigte van prys, sal ook waarskynlik negatief geaffekteer word oor tyd soos wat voorraadbeperkings ʼn effek op pryse het,” sê Yvette.

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en dra 4% tot globale produksie by. Die wynbedryf dra R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het sowat 290 000 mense in diens.

– Einde –

 Medianavrae:              Vinpro

Wanda Augustyn

Tel: 021 276 0458

E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Wosa

Maryna Strachan / Siobhan Thompson

Tel: 021 883 3860

E-pos: maryna@wosa.co.za

 

Sawis

Yvette van der Merwe

Tel: 021 807 5700

E-pos: yvette@sawis.co.za

 

PDF:                            Media_industry_2018.pdf

Go Back