News

Lnr Sheryl Faure (Wine.co.za), Lisa Lottering, (Landbouweekblad), Suzaan Potgieter (Die Burger Landbou), Hugo Lochner (FarmBiz), Anel Andrag (Winetech), Prof Gerhard Pietersen (Universiteit van Pretoria en die ARC Pretoria), JC Martin (eienaar Creation Wines), Nico Spreeth (Vititec), Conrad Schutte (VinPro) en Reinier Louw (Vititec).

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het groot vordering gemaak om die verspreiding van rolblaarvirus te bekamp danksy gefokusde navorsing, toetsterreine en ’n geformaliseerde Rolblaarbeheer-protokol.

 

Die rolblaarvirus hou ’n ernstige bedreiging vir wyndruifprodusente in aangesien dit potensieel wingerde se leeftyd kan verkort en tot ’n verswakking in die gehalte van druiwe en wyn kan lei. VinPro, in samewerking met Vititec, Winetech en Creation Wines, het onlangs ’n toer van die Hemel-en-Aardevallei aangebied om die vordering in die bestryding van die rolblaarvirus te demonstreer.

 

Vititec werk saam met verskeie wyndruifprodusente in verskillende wyndruifproduserende streke om rolblaarvirusvrye wingerde te skep. Die situasie in Suid-Afrika het oor die afgelope 20 jaar aansienlik verbeter, sê Nico Spreeth, uitvoerende hoof van Vititec. “Met al die prosesse wat ons in plek het, het ons ’n drastiese afname in kontaminasie in wingerde gesien – tot so laag as 0.4%.”

 

Creation Wines het grond, klimaat en aspek noukeurig oorweeg vir sy eerste aanplantings en, in konsultasie met Vititec, die insig gehad om slegs virusvrye klone te plant.

 

Jean-Claude (JC) Martin, eienaar van Creation Wines, sê daar is geen virusbesmette plante op die plaas nie. “Vititec inspekteer ons wingerde twee of drie keer per jaar. As daar enige tekens van infeksie is, word die blare vir ontleding weggestuur. Ons het dit tot dusver reggekry om ons wingerde skoon te hou.”

 

Winetech, die wynbedryfsliggaam wat statutêre befondsing vir druif- en wynnavorsing toeken, het oor die afgelope 17 jaar ongeveer R20 miljoen vir navorsing dwarsoor verskeie dissiplines bewillig wat tot ’n holistiese rolblaarprotokol gelei het.

 

“Dit is moontlik gemaak omdat ons gelukkig genoeg is om professor Gerhard Pietersen aan boord te hê,” sê Anel Andrag, bestuurder van Winetech. “Hy is ’n plantviroloog aan die Universiteit van Pretoria en die Landbounavorsingsraad en een van die toonaangewende navorsers op die gebied van rolblaarbeheer in Suid-Afrika.”

 

Die Suid-Afrikaanse Rolblaarbeheer-protokol is deur prof Pietersen met die hulp van Suid-Afrikaanse produsente en navorsers ontwikkel. Die protokol se doeltreffendheid en praktiese benadering het ook die aandag van internasionale druifprodusente in lande soos Nieu-Seeland getrek wat dit nou met groot sukses toepas.

 

“Pogings om die navorsing te verfyn is deurlopend en die benutting van die navorsing se bevindinge vorm deel van ons toekomsstrategie,” sê Andrag.

 

Tydens die besoek aan die Hemel-en-Aardevallei het bedryfsdeskundiges gesê die implementering van die protokol sal vir primêre wyndruifprodusente voordelig wees. Hulle het ook navorsing van die Universiteit van Michigan uitgelig wat die afname in opbrengs van geïnfekteerde wingerdplante kwantifiseer.

 

“Hoewel die protokol stadigaan deur Suid-Afrikaanse produsente aanvaar word, sal dit hulle bevoordeel en die volhoubaarheid van die waardeketting as geheel verbeter,” sê Conrad Schutte, wingerdkundige van VinPro.

 

Om die Suid-Afrikaanse Rolblaarbeheer-protokol af te laai gaan na www.igws.co.za of bel VinPro-Konsultasiediens by 021 276 0429.

 

Medianavrae:

Lee-Anne Davidson

VinPro-kommunikasiebeampte

Tel: 021 276 0460

E-pos: info@vinpro.co.za

Go Back