News

Ou wingerde – sentiment of ’n Suid-Afrikaanse skat? ’n Nuwe standaard ten opsigte van terroir-uitdrukking is met wyne van ou wingerd gestel. Dit word beklemtoon deur die ou wingerd se naam op die etiket wat na ’n stukkie aarde eerder as net ’n adres verwys. Ou wingerde, gepaardgaande met minimale inmenging van wynmakers, weerspieël dekades se vasbyt, aanpas en selfs duidelike mutasies, soos gesien in Sémillon Gris. Die teorie is dat wingerde hul kloonstatus op ongeveer 35 jaar oud prysgee – daarom dié afsnypunt om as ou wingerd geklassifiseer te word.

Ou wingerde skram weg van die monokultuurklone en weerspieël ’n eiesoortige uitdrukking in die wyne. Dit is meer mondgevoelgedrewe, in teenstelling met die vrugtige wyne wat jong wingerde so dikwels produseer.

Hierdie wingerde vorm deel van ons Suid Afrikaanse wyngeskiedenis. Die blokke uit die vroeë 1900’s spreek van handelsroetes. Van ’n mampoer- en brandewynkultuur van ouds. Van samesyn en familie­geskiedenis. Van ekstreme boere en ou wingerde in ’n bergagtige landskap. Van sentiment.

Maar wat beteken sentiment vir die bankbestuurder of jou kinders se universiteitsfonds?

’n Vraag weermee ek gereeld gekonfronteer word, is waarom ou wingerde nou regtig so spesiaal is en of dit nie net nog ’n bemarkingsfoefie is nie.

Die antwoord is nie eenvoudig nie. Die waarheid is dat nie alle ou wingerde goeie wyn maak nie. Wat wel seker is, is die feit dat ouwingerdwyne Suid-Afrika se kwaliteitwynprofiel aansienlik gelig het. Kyk maar na Eben Sadie se Ou Wingerdreeks, David Sadie se Hoë Steen en Chris Alheit se Radio Lazarus, om net ’n paar voorbeelde te noem.

Die grootste uitdaging tans vir ou wingerde is finansieel van aard. Met die meeste van hierdie wingerde wat 1.5 tot 5 ton/ha dra, klop die somme moeilik. Om R45 000 tot R55 000/ha te realiseer moet pryse van R9 000 tot R36 000/ton betaal word. Dit klink onrealisties vir ’n Suid-Afrikaanse standaard, maar gegewe dat die meeste van hierdie wyne teen R200 tot R1 000 per bottel verkoop word, is dit haalbaar.

Wingerdbou bly ook ’n groot uitdaging. Ou wingerde is nie soos tieners wat jy ’n Energade in die hand kan stop en sê daar gaan jy nie. Hulle kort aandag, soos oumense in ’n ouetehuis. Organiese bemesting teenoor chemiese bemesting. Subtiel snoei en suier sodat so min as moontlik wonde gemaak word teenoor hard suier en terugsnoei. ’n Deklaag om organiese inhoud in die grond op te bou, oppervlak-verdamping te beperk en mikrobiese werking te stimuleer. Geduld en respek. Dit is waaroor ouwingerdbou gaan.

Hierdie wingerde kan deur goeie wingerdboupraktyke weer nuwe lewe kry – kyk net na die Mev Kirsten-blok in Stellenbosch en die 1900-blok Cinsaut in Wellington, waar produksie oor die afgelope paar jaar aansienlik verhoog het, danksy grondgesondheid­bestuur, organiese bemesting, goeie snoei- en suierpraktyke en die inboet van nuwe stokke.

Die Ouwingerdprojek is nie net ’n lewensboei vir ou wingerde nie, maar maak wingerde van 20 tot 34 jaar oud ook meer aantreklik. Hierdie blokke kan nou beskou word as potensiële ou wingerde – en wingerde vir die nageslag. Wie weet watter blok Sémillon word die volgende “The Gris”, met mutasies van Sémillon Gris amper uniek aan Suid Afrika?

Ou wingerde blaas nuwe lewe in die nismark van hoëkwaliteit-, eg terroirgedrewe wyne. Dit maak wingerde in hul tienerfase aantreklik en gee hierdie wingerde hoop om eendag die stories en geskiedenis van ons Suid-Afrikaanse wynbedryf vir die volgende geslag te vertel.

– Jaco Engelbrecht, Ouwingerdprojek

 Die meeste van ons wingerde wat tans ouer as 35 jaar is, is geplant in ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse wynbedryf volkome op volumeproduksie gefokus was. Dit het beteken die geselekteerde klone, kelders wat gebou is en basies die manier waarop die hele bedryf gevorm is, op volumeproduksie en nie kwaliteit gebaseer was nie.

Daar was geen sprake van grondontledings of terroir nie, daar is slegs gekyk na wat vir massaproduksie nodig is en op grond daarvan is meer aanplantings gedoen. Die meeste van die wingerde het dus bestaan uit ongeskikte variëteite wat op verkeerde plekke geplant is.

Die algemene persepsie deesdae is dat as ’n wingerd oud is, moet dit goed wees. Maar dit is in die meeste gevalle nie waar nie. Terwyl dit waar is dat ou wingerde se opbrengs nie dieselfde as jong wingerde s’n is nie, is dit bloot toevallig as die wingerd uitsonderlike druiwe lewer.

So hoe vat ons die bedryf vorentoe? Waar gaan ons bedryf oor 10 en 20 jaar staan as diegene wat tans aan bewind is nie meer daar is nie? Ons het definitief nie nog wynmakers nodig wat ou wingerde spesifiek gaan uitsoek nie. Ons moet nuwe wingerde plant!

Die beste plantmateriaal moet op die regte grond en terroir geplant word, met gebruik van die beste opleidingstelsels. ’n Mens kan praat van “kwaliteit deur ontwerp”. Dit gaan verseker dat jy van dag een af die beste druiwe sal kry. Daar is te veel ou wingerde in Suid-Afrika wat op goeie grond staan. Dit moet uitgetrek word en nuwe wingerde moet geplant word.

Ek het dit self in die praktyk ervaar toe ek in 2008 Chenin Blanc geplant het – ek het nuwe klone op die regte grond geplant en alles mooi opgelei. Alles was perfek. Binne ’n kwessie van vyf tot ses jaar, tydens blinde proewe, het ek gesien hoe wyn van nuwe wingerde telkemale wyn van ou wingerde uitgestof het wat konsentrasie, kwaliteit en konsekwentheid betref.

Die ander vraag is, wat sal die potensiaal wees van nuwe wingerde wat geplant word op grond waar ou wingerde was? As ’n mens alles reg doen, sal daardie druiwe dan nie baie beter vaar nie? Dis waaroor my Eden-projek gaan, waar ek hoëdigtheidswingerde (1 m x 1.2 m) in 2008 gevestig het. Die wyne het verlede jaar uitsonderlik gevaar in proewe – die Cabernet Franc het 95 by Parker en 94 by Tim Atkins gekry. Laasgenoemde het die Chenin Blanc ook 94 gegee. Dit beteken die wyne het basies beter as 99.9% van alle Chenin Blanc en Cabernet Franc wyne in Suid-Afrika presteer.

Wat ek wou bewys is dat jy nie 35 jaar hoef te wag vir ’n wingerd om kwaliteit te lewer nie. Waar “gehalte deur verstek” voorheen in ons bedryf gegeld het, moet ons eerder streef na “gehalte deur ontwerp”.

Dit beteken ons moet wingerde plant wat van die begin af kwaliteit sal lewer en ’n goeie prys sal regverdig. In Stellenbosch moet jy byvoorbeeld ten minste R8 000 per ton kry, anders gaan jy dit nie maak nie. Onthou, gebiede wat nog goed doen, is waar wingerde nog letterlik 30 tot 40 ton/ha lewer en al kry die produsent net R2 000 per ton, is dit steeds vir hulle winsgewend omdat daar groot volumes ter sprake is.

Dink net aan die ongelooflike kwaliteit wat moontlik sal wees in die volgende 20 tot 35 jaar van nuwe wingerde, mits die beginsel “gehalte deur ontwerp” toegepas word.

Ongelukkig is die beginsel van ou wingerde nou ’n bemarkingsfoefie en word hoë pryse gevra as die woorde “ou wingerd” op ’n bottel verskyn. Hoewel goeie wyn van ou wingerde gemaak kan word, beweeg ons sywaarts en nie vorentoe nie, as daar aanhoudend op die beginsel van “ou wingerde” gehamer word. Op die langduur is dit nie goed vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie. Ons kan nie meer bekostig om per toeval goeie wyn van ou wingerde te maak nie.

Slegs die beginsel “gehalte deur ontwerp” sal ons vorentoe dryf.

– Bruwer Raats, Raats Family Wines

Soos gepubliseer in die Julie 2017 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back