News

’n Gratis nuwe toep of te wel app help toeriste om die wonders van die Kaapse wynland te verken.

 

’n Nuwe app (toepassing), met ’n opsie vir elk van 13 dorpe in die Kaapse Wynland, is onlangs vrygestel. Indigo New Media se Tourism app stel toeriste in staat om die besienswaardighede, wyn en kos van elke dorp in die Kaapse wynland te ontdek.

 

Hierdie nuwe app is ’n bewys van wat gebeur as dorpe saamwerk en meer voete na die wynland lok deur interessante feite en inligting te verskaf oor wyne, eetplekke en gebeure spesifiek tot elke dorp. Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), in samewerking met Plaaslike Toerismeverenigings (PTV’s), is die dryfkrag agter die ontwikkeling van die app wat op enige slimtoestel afgelaai kan word en is beskikbaar vir beide iOs- en Android-toestelle.

 

Elke opsie op die app verskaf inligting oor plaaslike geleenthede, inrigtings, besienswaardighede en toerisme-aktiwiteite vir 13 dorpe. Die opsies is: Stellenbosch 360, Franschhoek Wynvallei, Dwarsrivier Toerisme, Drakenstein PTV Paarl, Drakenstein PTV Wellington, Worcester Toerisme, Breedekloof Wyn & Toerisme, Wolseley Toerisme, Tulbagh Wyn & Toerisme, Ceres Toerisme, Robertson Toerisme, McGregor Toerisme en Montagu-Ashton Toerisme.

 

“Die app het die voorkoms en skep die indruk van ’n sosialemedia-app wat aktief nuus en ander inligting ontvang soos dit gebeur en anders as ander soortgelyke apps wys dit nie net bloot ’n kaart nie,” sê dr Helena von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.

 

“Die vrystelling van die app kon nie op ’n beter tyd gekom het nie, aangesien slimfone toenemend deur toeriste gebruik word om toerismeaktiwiteite en -verblyf op te spoor. Dit het kategorieë op die hoofblad wat gebruikers toegang tot belangrike inligting vir elke dorp gee. Dit sluit in intydse nuus, ’n gevorderde GPS-funksie met gedetailleerde navigasie en subkategorieë vir dinge om te doen, eetplekke, verblyf en ’n kalender van geleenthede in die spesifieke dorpe. Toeriste kan ook besprekings doen, foto’s oplaai en hul gunstelingwynkelders volg.”

 

Nog ’n pluspunt is dat kleiner besighede wat voorheen dalk nie raakgesien is nie, nou toeganklik en sigbaar is vir toeriste. Dr Von Schlicht sê die Kaapse wynlande is waarskynlik een van Suid-Afrika se gesogste toerisme-aantreklikhede en dat dit talle besigheidsmoontlikhede inhou. “Ons wil hê ons besoekers moet nog meer verken. Daar is ’n ander wêreld om te ontdek, van olyfplase en handgemaakte kase tot styl bergpasse en ons fynbosblommeryk.”

 

Gaan na die appwinkel en tik “Indigo New Media” in. Kies dan die dorpie waarin jy belangstel (daar is 13 opsies), laai dit af en laat waai!

 

Soos gepubliseer in die Mei uitgawe van WineLand tydskrif.

Go Back