News

Willem Pietersen se reis tot assistent-wynmaker het as algemene wingerdwerker by Black Oystercatcher Wyne begin. Hy het sy storie met Lee-Anne Davidson gedeel.

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Só glo Willem Pietersen wat sy loopbaan in die wynbedryf in 2004 as ’n algemene wingerdwerker begin het. In 2012 het hy in die kelder begin werk en dit het tot sy liefde vir die wynmaakproses gelei.

Willem moes weens omstandighede skool vroeg verlaat en het nooit Graad 12 voltooi nie. Nou, op die ouderdom van 31, het hy sy derde Senior Kelderwerker-opleidingsprogram (Skop) suksesvol deur Wine Training South Africa (WTSA) voltooi.

Skop 1, 2 en 3 verskaf formele inleidende, intermediêre en gevorderde opleiding aan kelderwerkers en wynmaker-assistente. Ná voltooiing van die eerste drie Skop-kursusse, kan kandidate met ’n formele reeks NKR Vlak 3-wynmaakprogramme voortgaan.

“Toe ek in die kelder begin werk het, het ek min geweet wat daar aangaan, maar Dirk Human, stigter en wynmaker van Black Oystercatcher Wyne, het ’n pad met my geloop en het vir my alles oor die kelder en prosesse geleer.”

Willem is vandag Dirk se regterhand in die kelder en by elke stap van die wynmaakproses betrokke – van die oes tot die bottelering, etikettering en boksstadium.

“Ek voel baie trots wanneer ek wyn proe en weet ek deel van hierdie proses was” – Willem Pietersen, assistent-wynmaker by Black Oystercatcher Wyne.

“Willem is ’n baie toegewyde man,” sê Dirk. “Hy is hardwerkend en neem verantwoordelikheid vir elke taak wat vir hom gegee word. Hy is altyd gretig om nuwe dinge te leer en dit is wat hom laat uitstaan.” Dirk sê hy sien Willem as een van Black Oystercatcher Wyne se toekomstige wynmakers.

Willem het nog ’n lang pad om te loop en hy sê hy is baie opgewonde om meer oor wyn te leer. “Ek wil graag meer kursusse in wynmaak doen en hoop om binne vyf jaar my eie wyn te kan maak,” sê hy.

“Ek voel baie trots wanneer ek wyn proe en weet ek deel van hierdie proses was” – Willem Pietersen, assistent-wynmaker by Black Oystercatcher Wyne.

Soos gepubliseer in die April-uitgawe van WynLand.

Go Back